Wednesday, September 05, 2007

Appelkoosbloeisel

Salomo sing sy liefde oor die wingerd uit,
haar songesoende hare wip in die wind
en laat hom aan sy spogmerrie dink.
antieke geure
gedink
gedroom
gefluister
gebloos
Sedert Adam se droom smag die mens na sy rib.

baba duifies kruip in die witstinkhoutboom se takke weg
winter volmaan loop leeg met elke swaarkry traan
eerste Afrika lente in dertigveertigmaande
lanternlig asem jasmyn en lelielug
kampvuur vlamme lek
klam houtstompe suis
rooiwyn herdenk
sterre skiet
Kaalvoet oor die koel kleiteëls.

beloofde nuwe lewe druk deur ou geharde bas
gebede smeek vir dapperheid teen bekende vrese:
maak ons naak voor U verkose keuses
opgebruikte hoop
gesteelde skaamte
gestorwe lywe
herstel in heerlikheid
keel nog vol rooi skaliestof
klam palms skraap steeds moed bymekaar
onverwags verras hy my
Mooiste wilde blom.

No comments: