Thursday, September 27, 2007

lente seën

September reën oor die droë Hoëveld
Meng skoon stof met gister se verbrande as
Jong broodboomblare rek ver agteroor
Glans groen glad soos warm bietjies was

Oostewind kielie-koek my hare teen my wang
Swaar palmtakke stamp kop teen die rand van my dak
Warm beker tee stoom keelaf op my lip
Mannetjies-kat liefie-liefie teen my trui en kennebak

Wie hou hierdie aardbol, skeef aan’t die draai in sy sagte omgee hand?
Wie roer die seegetye telkens klokslag met die maan?
Wie glimlag oor my drome in stil gedagtes elke aand?
Wie belowe hy’s langs my deur die seisoene van my toekoms - altyd saam.

Friday, September 14, 2007

Taantjie skat

Taantjie skat
Jou liewe kind
Blinkoog slim
Vol vrae en grappies

Taantjie skat
Jou liefste kind
Ligte lyfie vloei in my arms in
Sodra ek kniel of buk of sit

Taantjie skat
Jou pa se kind
Vol vlermuis streke
Sand en springtou slaap saam in jou bed

Taantjie skat
Jou ma se kind
My gebede vou om jou hele wese
Haar geloof en hoop en lewenslus

Taantjie skat
Jou liefling kind
Ons vriendskap sku
Skaars twee weke jonk

Wednesday, September 05, 2007

Appelkoosbloeisel

Salomo sing sy liefde oor die wingerd uit,
haar songesoende hare wip in die wind
en laat hom aan sy spogmerrie dink.
antieke geure
gedink
gedroom
gefluister
gebloos
Sedert Adam se droom smag die mens na sy rib.

baba duifies kruip in die witstinkhoutboom se takke weg
winter volmaan loop leeg met elke swaarkry traan
eerste Afrika lente in dertigveertigmaande
lanternlig asem jasmyn en lelielug
kampvuur vlamme lek
klam houtstompe suis
rooiwyn herdenk
sterre skiet
Kaalvoet oor die koel kleiteëls.

beloofde nuwe lewe druk deur ou geharde bas
gebede smeek vir dapperheid teen bekende vrese:
maak ons naak voor U verkose keuses
opgebruikte hoop
gesteelde skaamte
gestorwe lywe
herstel in heerlikheid
keel nog vol rooi skaliestof
klam palms skraap steeds moed bymekaar
onverwags verras hy my
Mooiste wilde blom.

evolution

Entropy reigns on a cloudy Saturday morning.
Continuous question: will she make it to the toilet on time?
Latex gloves separate,
luke-warm water,
cold on mom’s receding nappy rash.
Late night conversations about men and sex and life.
Silent surrender: did I deny myself in vain?
Mom’s husband married a virgin and so will mine.
Natural selection has pre-destined that I will not.