Patat se hand hou myne vas
as ons saam verby die wingerde jaag
Ons loer na die son wat oor miswolke dans
dan volg ons weer die maan wat uit sy broek se sak wil val
Patat se spens hou wag in die nag
langs die Witzenberge swoeg hy as ander siele slaap
Smôrens ry hy zoep-zoep oor die dorp se rivier
na waar rye mense langs Namakwa-Daisies vir hom wag
Patat se hart is so diep soos die hemel
met miljoene sterre wat vir siek kindertjies brand
Met sy glimlagte en inkleurboekpersente
hou hy einas en erge uiteindes so lank as moontlik weg
Patat se oog sien mooigoed raak
waar sneeuklokkies teen die winterreëns buig
Hy verf sy spoke en drome teen groot doeke vas
maar verberg dit onder sy wasgoed en onoopgemaakte pos
Patat se skouers hou myne regop en sterk
as my rugstring wil knak en my moed begin sak
Saam hoop ons vir genade en nog sonskyn in die môre
want Hy hou ons gipsbesmeerde hande elke oomblik in Syne vas
No comments:
Post a Comment